Ysterwiele 3 

 Binnekort Beskikbaar
 

'n Uittreksel uit ’n artikel wat in die SASSAR van Mei 1973 gepubliseer is, vertel van die trots van al die mense wat spoorweg gebring het tot waar dit vandag is, wanneer dit verwys na waar die werklike krag van die Suid-Afrikaanse Spoorweë gelę het. Nie in die sigbare dinge wat hulle gebruik het nie,: lokomotiewe, rollende materiaal of spoorstawe nie maar in hul mense - hulle entoesiasme - hulle ywer - hulle trots in hulle werk.

 

Met die saamstel van die boeke het ek nog steeds daardie selfde trots, ywer en entoesiasme teëgekom by elke spoorwegman met wie ek te doen gekry het.  Die groot netwerk van ysterpaaie wat regoor sonnige Suid Afrika uitgesprei lę, vertel 'n verhaal van 'n rekordprestasie.  'n Prestasie waarop enige land met reg trots kan wees.  Stom ysterstawe wat stilswyend herinner aan 'n onlosmaaklike verbintenis met die verlede van die mense wat eens die weg oor hulle gebaan het.  Heel ongetwyfeld is dit te danke aan die baanbrekerswerk van man en lokomotief in hul seëvierende tog oor die silwer netwerk van spore, van agter-laers op stasies, depots en rangeerwerwe, buite in tente of afgeleë huise, dat die ylbevolkte streke in die res van die Afrika- kontinent nie vandag nog gesluimer het in primitiewe isolasie nie.

 

Die spoorweë van 'n land is 'n spieël waarin die vooruitgang en ontwikkeling wat in daardie land plaasgevind het, glashelder weerkaats word… maar so ook die agteruitgang daarvan. Op die gebied van

vooruitgang en ontwikkeling was Suid-Afrika eens die onbetwiste leier op die vasteland van Afrika.

 

Vandag dryf spoorweg op die harde werk van desperate swaarkrydae en op die pyn van voorgeslagte.

 

Die verhale in hierdie reeks boeke vertel daarvan.  Van die lę van daardie vaste fondasie waarop die trotse vooruitgang en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Spoorweë plaasgevind het.  Die sement was stoutighede, streke en humor maar ook erns, hartseer en dikwels 'n traan.

 

In hierdie derde boek van die Ysterwiele-reeks vertel die spoorwegmense weereens van hul lewe in diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë.  Kom lag, huil, verlang en herleef weer saam met hulle na dit wat eens hulle lewe was.

© 2010: Ysterwiele

Webspasie deur Hotstuff Computers