|
Op die spoor van Treine Ysterwiele Reeks: Die volle verhaal My man het sy spoorwegloopbaan van 35 jaar op Otjiwarongo in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) begin en nadat hy sy eksamen vir senior assistent te Esselenpark afgelê het, is ons Lydenburg toe verplaas. Na 'n verblyf van 2 jaar is hy op sy drywersgraad Komatipoort toe verplaas om na nog twee jaar op eie versoek weer terug te keer Lydenburg toe. Daarvandaan is ons weereens op eie versoek Ermelo toe verplaas waar hy dan ook aan die begin van 2001 afgetree het. Ons het ons op Jeffreysbaai kom vestig en dit is hier waar ek die begeerte om 'n boek te skryf ten uitvoer gebring het. Om n boek uitsluitlik oor spoorwegstories te skryf het egter nooit in my gedagtes opgekom nie en het ek begin om stories bymekaar te maak van enige persoon wat oor interessante ware verhale beskik het gedurende hul loopbaan in enige hoedanigheid. Dus het ek begin met stories van 'n grootwildjagter, dokter, toerleier ens., maar kort voor lank het my bronne opgedroog en het ek in 'n doodloopstraat beland wat betref vêrdere kontakte. Op 'n dag het ek skielik "wakker" geword en tot die besef gekom dat, danksy die stories wat Dirk my vertel het, die spoorwegmanne eintlik die mense is wat die werklike interessante en goeie stories kan vertel. Dit het my tot die idee gebring om 'n advertensie in die personeeltydskrif, "Die Voetplaat", (soos dit bekend gestaan het voor Dirk se aftrede) te plaas waarin ek versoek dat spoorweg werkers hul stories aan my moet stuur. Omdat ons nie meer "Die Voetplaat" ontvang het nie, het ek iemand geskakel wat nog steeds op Spoornet werksaam is om die telefoonnommer van die publikasie te bekom. By hom het ek egter verneem dat "Die Voetplaat" lankal nie meer bestaan nie en dat die "Utatu" koerantjie in die plek daarvan gekom het. Op daardie stadium was ek totaal onbewus van die bestaan van die "Voetplaat" radioprogram wat elke Woensdagoggend (die program is intussen beëindig ) op RSG in samewerking met Niekie Theron van Laingsburg aangebied was. Ek het die kantoor van UTATU geskakel maar die dame daar het my meegedeel dat ek by die verkeerde kantoor is. Sy het aangebied om my na die regte kantoor toe deur te skakel en 'n manspersoon het daarna aan die anderkant geantwoord. Onder die indruk dat ek nou by die regte plek is, het ek sommer met die deur in die huis geval maar weereens het dit geblyk dat ek na die verkeerde kantoor toe deurgeskakel is. Binne-in die kantoor van die Adjunk-hoofsekretaris, Mnr. Louis Brockett! Hy het my reggehelp maar wou eers weet om watter rede ek 'n advertensie in hulle koerant wil plaas. My voorneme het hom vol entoesiasme gestem. Die eerste tekens dat dit uitsluitlik op 'n spoorwegboek gaan uitloop, is weerspieël in Mnr. Brockett se woorde toe hy gesê het: “Ek het nog altyd gesê daar moes al lankal so n boek gekom het!” Ek was op daardie oomblik bietjie bekommerd en wou hom reghelp en verduidelik dat ek reeds besig was met n boek en dit slegs wou aanvul maar die gesprek het geen geleentheid gebied daartoe nie. Na n raadsvergadering het hulle 'n vry voorwaardelike advertensie aan my toegestaan waarop slegs een persoon tot op hede gereageer het. 'n Persoon in die gestalte van Chris Coetzer van Richardsbaai wat op geen manier ooit aan die spoorweg verbonde was nie maar as spoorwegentoesias, was hy die persoon wat my in aanraking gebring het met Niekie Theron by bogenoemde radioprogram. Van die eerste oggend wat Niekie my versoek om stories voorgedra het, was daar geen keer aan die spoorwegmanne se reaksies nie en het hulle van oral oor die land en selfs oorsee, (afgetrede oud-spoorwegmanne in Amerika en Skotland bv.) op my toegesak met stories. Bandjies, laserskywe, briewe en e-posse het ingestroom en ek moes selfs luister na 'n spoorweglied wat uit volle bors oor die telefoon vir my gesing word, die kragtige geluid van 'n 23 klas stoomlokomotief wat in die gehoorbuis weerklink en die stories op bandjies wat met lekker boeremusiek af-gewissel word. Verhale wat vertel hoedat die spoorweg tot stand gekom het, waar sy wortels lê, van die manne se daaglikse swoeg en sweet om die wiele aan die rol te hou in die bou van 'n vaste fondasie. Dit vertel van die beginjare, van volharding onder moeilike omstandighede, van tye, veral tydens Dr Verwoerd se bewind, toe Suid-Afrika se spoorlyne amper deurgetrap is danksy n groot verkeersvloei. Daar is die humor, die erns, hartseer, hul wettighede en onwettighede maar bo alles die saamstaan wanneer kollegas in die moeilikheid gekom het. ******** |
||
|